Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Reney Warrington

@ Sunday Times Books LIVE

My resensie van Die See II

Geskryf vir en eerste gepubliseer deur www.litnet.co.za 

Alcatraz se deure is al jare lank toe. In die ’90’s was dit wel die rusplek vir enige alternatiewe siel. As ek reg onthou, het die klub nie eens ’n naambord gehad nie. Jy het in die oostekant van die stad rondgery tot jy die deur herken het. Binne was dit boonop swak belig en die dekor niebestaande. Tensy jy dink swart mure tel as dekor. Die kroegman was ongeskik, die ander klubgangers soms werklik vreemd, en die verskeidenheid drank maar beperk.

Tog was daar iets hipnoties aan die plek wat ons naweek na naweek teruggelok het in om in ons Docs, swart tights en swaar grimering te kom dans. As ek vandag terugdink aan die klub, weet ek dit was die gehalte van die musiek wat ons gelok het, want dit was die enigste element wat Alcatraz nie afgeskeep het nie.

Die See vat my terug Alcatraz toe.

Musiek
Party mense sou Die See beskryf as alternatiewe Afrikaans. Ek dink wel hulle musiek gaan verby een kategorie. Ja, die kitaar-rifs is meestal, donker en swaar en ongelooflik epic (dink Rosetta Stone, selfs Die Krupps), maar tog is daar ’n blues/rock-element wat deurkom.

Geraas 
Daar is ’n geneigdheid vir seker alternatiewe groepe om ’n groot geraas te maak, swak vocals by te gooi en ’n album op te neem. Die See val nie in daardie lawwe kategorie nie. Elke instrument kan onderskei en gevolg word, maar saam vorm dit tog ’n naatlose geheel. Hoe groter die drif, hoe meer pas alles by mekaar. Luister maar na Gordelroos. Alhoewel driftig en swaar, het ek my vierjarige musiekmal vriend, Luca, daarmee aan die slaap kon sus. (Hy is wel lief vir Jack White.)

Produksie
Daar is geen fout nie. Niks klink hol, of plasties, of soos ’n springmieliemasjien of backtrack vir bekende Afrikaanse sangers wat eintlik nie kan sing nie.

Die stem
Henry se stem is awesome. Met tye is dit rustig, ander kere is dit diep en donker, maar wat my tone die meeste laat omkrul, is wanneer hy baie hoog sing. Jissie. Dit bring my dan by een van my twee gripes met die album. Sy stem is effens te sag opgeneem. (Dit is dalk net ’n persoonlike voorkeur. Ek wag vir ander opinies.)

Instrumentals
Die instrumentals, wat deur ander kunstenaars baie keer as fillers gebruik word, hoef op hierdie album nie terug te staan vir die ander tracks nie. Dit is ewe sterk sonder Henry se lekker stem.

Lirieke
Die lirieke is in my opinie poësie. (Natuurlik gaan ek hel kry vir hierdie stelling. Ek sit reg.) Doen die moeite om dit te lees. Dit is kompak, kragtig. Ek gee nie voor dat ek elke frase/reël ten volle verstaan nie, maar dat dit my beweeg, my raak, daaroor is ek bly.
Selfs die name van die liedjies laat my lekkerkry. “Saad gesaai”, “Perron na Perron” en my gunsteling, “Gordelroos”. Verbeel jou.

Verpakking 
Dit is fenomenaal, luuks. Ek bly daaraan vat. Ek bly nuwe lae van ontwerp/teks/beelde van die see ontdek. Ek was lanklaas so verlief op ’n CD-sleeve. My digitale iTunes-versameling lyk nou plasties en vaal.

Gripes
Nr 43 kon in die asblik beland het.

Slotsom
Dit is verdomp awesome.

http://die-see.blogspot.com/

 

Please register or log in to comment